Tuinroete moordenaars
Twee sterf ná verskeie skote hulle tref
Polisie soek Tuinroete-moordenaars
MISDAADTONEEL: George, Suid-Kaap: Die polisie is opsoek na die verdagtes wat betrokke was by ‘n dubbele moord hier.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gesê twee mans is Woensdag, 22 Julie 2026 in Thembalethu, George, doodgeskiet.
Volgens die SAPD het die Thembalethu-polisie omstreeks 18:00 op ‘n skietery in Tawulestraat, Sone 9, gereageer.
Met hul aankoms het hulle die liggaam van ‘n man in die straat gevind. Die polisie is verder verwys na die liggaam van ‘n ander man wat in ‘n erf in Yawanistraat lê. Die slagoffers, 43 en 31-jaar-oud, het veelvuldige skietwonde opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“Misdaadtoneelkundiges het die toneel vir leidrade gefynkam en verskeie patrone gevind. Die motief vir die moorde moet nog vasgestel word,” het die SAPD gesê.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die Thembalethu-speurders kontak by 044 802 8906 of Stop Misdaad by 08600 10111.
