Vyf diewe in Kampsbaai gearresteer
Verdagte met nog sewe soortgelyke sake verbind
Toeris in Simonstad beroof
MISDAADTONEEL: Simonstad, Kaapstad: Drie vroue en twee mans is gearresteer nadat hulle na bewering ‘n toeris beroof het en tot in Kampsbaai agtervolg is.

Die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die polisie in Simonstad het Saterdag 5 September 2026 ‘n BOLO (Wees Op die Uitkyk) versprei nadat ‘n voertuig wat na bewering verbind was met die inbraak van ‘n toeris se voertuig naby Boulders-strand.
‘n Kort rukkie later is die voertuig gesien waar dit deur Houtbaai ry en Kampsbaai binnegaan.
“Die voertuig se bewegings is deur ‘n ongemerkte Community Improvement District (CID)-voertuig gemonitor. Die lede het ook gesien hoe die insittendes by ‘n ander voertuig in Link-weg inbreek.
“Die verdagtes het probeer om die gebied te verlaat, maar vrywillige hulp-wetstoepassers het die verdagtes in Houghton-rylaan afgetrek,” het Smith gesê.
Gesteelde eiendom, wat die verdagtes aan beide voertuie wat daardie dag geteiken is, verbind, is teruggevind.
Volgens Smith het die vrywilligers een van die manlike verdagtes uit vorige CCTV-beeldmateriaal herken.
“Deur verdere ondersoek kon hulle hom verbind met nog sewe aparte sake, soortgelyke misdade, wat tussen 2024 en 2026 in die Atlantiese kus gebied gepleeg is.
“Elke jaar lewer ons wetstoepassing hulp-vrywilligers ‘n aansienlike bydrae tot misdaadvoorkoming en arrestasies – wat beduidende suksesse bydra tot die statistieke wat uiteindelik deur die SAPD aangeteken word,” het Smith gesê.
