Woodstock kreefsterte

 
 

Man in arres oor onwettige handel in sterte

Nog onwettige kreef gevind

KAAPSTAD: Die Stad Kaapstad se Mariene Wetstoepassing-eenheid was weer die naweek op hulle stukke toe hulle ‘n man gevang het wat na bewering kreefsterte onwettiglik in sy besit gehad het.

Die polisie het byna 1000 kreefsterte gekonfiskeer. Foto: Stad Kaapstad

Beamptes was Sondag, 14 Junie 2026 op patrollie in Woodstock toe hulle inligting van die publiek ontvang het van beweerde onwettige handel in kreefsterte by die ou Woodstock-hospitaal. Beamptes het gereageer en die verdagte gevind wat na bewering 973 sterte in sy besit gehad het. Die 33-jarige man is gearresteer en by die Woodstock-polisiestasie ingeboek.

“Die plundering van mariene hulpbronne bly ‘n uitdaging, soos ons net ‘n week gelede gesien het toe beamptes ook ‘n groot aantal kreefsterte gekonfiskeer het.

“Aan die lid van die publiek wat besluit het om die fluitjie in hierdie jongste voorval te blaas – dankie.

“Dis van kritieke belang dat individue en gemeenskappe vorentoe kom en hul stem laat hoor; dit help ons om misdaad effektief te bekamp,” het die Stad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, raadslid JP Smith, gesê.

In die vorige voorval, op Sondag, 7 Junie 2026 het wetstoepassingsbeamptes byna 2 000 sterte in Wynberg gekonfiskeer en ‘n 59-jarige man gearresteer.

Lede van die Law Enforcement Adavancement Plan (LEAP) op patrollie in Nyanga-Oos het Saterdagoggend, 13 Junie 2026 ‘n 35-jarige verdagte in hegtenis geneem vir die besit van ‘n Uzi-masjiengeweer en ‘n 9mm-pistool.

‘n Uzi masjiengeweer is in Nyanga-oos gevind. Foto: Stad Kaapstad

In ander voorvalle verlede week het die Stad se wetstoepassers 386 arrestasies gemaak. Hulle het ook 64 664 boetes uitgereik vir verskeie verkeers- en ander oortredings.

Wetstoepassingsbeamptes het 236 arrestasies gemaak en die Metro-polisie 109, insluitend 31 vir dronkbestuur.

Beamptes het ook drie vuurwapens, ‘n nagemaakte vuurwapen, dwelms en nege gekaapte en/of gesteelde voertuie teruggevind.

Op die paaie het die Stad se verkeersbeamptes 41 verdagtes in hegtenis geneem – 31 vir bestuur onder die invloed van alkohol, sewe vir roekelose en nalatige bestuur en nog drie op verskeie ander aanklagte.

Die openbare nood-kommunikasiesentrum het 1 207 voorvalle oor die naweek aangeteken.