Atlantis polisie

 
 

Jongman in sy gesig geskiet

Vermoorde se liggaam in bos gevind

MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: ‘n Jongman is brutal vermoor toe hy in die gesig geskiet en sy liggaam in ‘n bos agtergelaat is.

Volgens sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het die Atlantis-polisie Dinsdagoggend 19 Mei 2026, omstreeks 07:45 gereageer op ‘n klagte van ‘n liggaam wat in die bos in die Ou Mamre/Darling-weg lê.

“Met die lede se aankoms op die toneel het hulle ‘n 21-jarige man gevind wat ‘n skietwond in sy gesig opgedoen het. Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Twigg gesê.

‘n Moordsaak word ondersoek.

Volgens berigte het bure ‘n skoot net voor 22:00 op Maandagaand 18 Mei 2026 gehoor en Woensdagoggend op die liggaam afgekom.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.