Cafda dubele moord
Metro polisie kry twee pistole in gekaapte kar
Twee vas ná dubbele moord
MISDAADTONEEL: Seawinds, Kaapstad: Twee mans is gearresteer ná ‘n dubbele moord verlede week in Cafda Village.

Die Stad Kaapstad se Metro polisie is om 09:25 Vrydag, 9 Oktober 2026, in kennis gestel van die skietery in Ensor-straat, Cafda.
Die polisiebeamptes is ‘n beskrywing van die skieters se motor, ‘n wit Chevrolet, gegee en die kar is in Military-weg, naby Seawinds in Lavender Hill, opgespoor.
Ná ‘n hoëspoedjaagtog deur die strate van Capricorn het die polisie daarin geslaag om die voertuig in Seawinds tot stilstand te dwing. Die drie insittendes het probeer vlug, maar die Metro polisiebeamptes het twee van die verdagtes gevang en gearresteer.
Die kar is deursoek en daar is op twee vuurwapens en 11 lewendige patrone in ‘n magasyn beslag gelê.
Die voertuig is na bewering ná die skietery in Ensor-straat in Cafda gekaap.

Die verdagtes is gearresteer op aanklagte van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook roekelose en nalatige bestuur.
“Die beamptes se vinnige optrede het gelei tot die arrestasie van twee moord verdagtes wat op daardie stadium ook die lewens van ander padverbruikers in gevaar gestel het. Of dit nou gaan oor die verwydering van misdadigers of onwettige wapens, ons beamptes sal voortgaan om ons strate veiliger te maak,” het JP Smith, lid van die burgemeesterskomitee vir veiligheid en sekuriteit, gesê.
Die twee was deel van die 474 verdagtes wat die afgelope week deur die Stad se wetstoepassing-departemente gearresteer is.
Die Metro polisie het 120 verdagtes gearresteer en beslag gelê op nege gekaapte en/of gesteelde voertuie en ses verbode vuurwapens.
Wetstoepassingsbeamptes het 297 arrestasies uitgevoer, terwyl verkeersbeamptes 57 verdagtes gearresteer het: 48 vir dronkbestuur, agt vir roekelose en nalatige bestuur, en een op ander aanklagte.
Die publiek kan voorvalle en noodgevalle, of enige verdagte en/of kriminele aktiwiteite, by die openbare nood-kommunikasiesentrum (PECC) by 021 480 7700 aanmeld, of deur die Veiligheid-en-Sekuriteit-funksie op die City-App te gebruik.
Lees ook: Man en vrou sterf in skietery – Crime Scene Report
