Delft dwelms

 
 

Polisie slaan toe in Delft

Man vas oor R1,5-m se dwelms

MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: ‘n 43-jarige man van Delft is gearresteer nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) na bewering dwelms ter waarde van R1,5 miljoen in sy besit gekry het.

‘n Span bestaande uit die Valke se Misdaad teen die Staat (CATS)-eenheid, die Suid-Afrikaanse Narkotika-Handhawingsburo (SANEB), die Wes-Kaapse anti-bende-eenheid (AGU), die K9-eenheid en die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum (LCRC) het Dinsdag 9 Junie 2026 op die perseel toegeslaan nadat hulle inligting ontvang het oor onwettige aktiwiteite by ‘n sekere adres in Delft.

Die perseel is in die teenwoordigheid van die verdagte deursoek.

In een van die kamers is ‘n bruin sak met 7000 heel Mandrax-tablette gevind. Met verdere deursoeking is ook kokaïen en Tik ontdek. Die geraamde waarde van die dwelms is R1,5 miljoen.

Die verdagte sal Donderdag 11 Junie 2026 sy eerste verskyning in die Bellville-landdroshof maak.