Devon Blou lig Rowers gevang
Uniforms in verdagtes se besit gekry
Polisie vang ‘blou-lig’ rowers
NASIONAAL: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n deurbraak gemaak teen “bloulig”-rooftogte en kapings.

Die Devon SAPD in Gauteng en Mpumalanga se Georganiseerde Misdaadeenheid het Vrydag 3 Julie 2026 twee verdagtes, onderskeidelik 31 en 41-jaar-oud, tydens ‘n stop-en-deursoek-operasie in Devon gearresteer.
Die drama het begin toe ‘n voertuig tydens die operasie nie wou stilhou nie. ‘n Jaagtog het gevolg en die voertuig is uiteindelik in Leslie voorgekeer is. Die polisie het die verdagtes en die voertuig deursoek en ‘n ongelisensieerde vuurwapen gelaai met ammunisie, blouligte en uniforms van die SAPD en die Ekurhuleni Metro-polisiedepartement gevind. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die voertuig onlangs gekaap is.
Die waarnemende Provinsiale Kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, Generaal-Majoor Zeph Mkhwanazi, het die polisiebeamptes wat die arrestasie uitgevoer het, geprys.
“Die arrestasie van die twee verdagtes stuur ‘n sterk boodskap dat die polisie nie misdadigers sal duld wat hulle as wetstoepassers voordoen om onskuldige motoriste te terroriseer nie. Die gebruik van blou ligte en polisie-uniforms om roof en kapings te pleeg, is ‘n baie ernstige misdaad en ondermyn die publiek se vertroue in die polisie,” het Mkhwanazi gesê.
