Eks meisie vermoor in Tweeling Vrystaat
Polisie skiet ou dood kort ná hy sy eks vermoor
Tweeling se dubbele tragedie
MISDAADTONEEL: Tweeling, Vrystaat: ‘n 40-jarige man is deur die polisie doodgeskiet kort nadat hy Dinsdag, 18 Augustus 2026 sy eks-meisie geskiet het.

Volgens inligting het die 36-jarige vrou omstreeks 17:45 haar werk verlaat en na ‘n plek gegaan van waar sy huistoe sou ryloop.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sê sy het kort daarna in ‘n wit motorvoertuig geklim, onwetend dat haar eks-kêrel reeds binne was.
Toe die voertuig in 10de-Straat, Tweeling stilhou, het albei uitgeklim. Die man het haar na bewering gegryp en in die kop geskiet. Die verdagte het toe van die toneel gevlug, sê SAPS.
Getuies het die polisie onmiddellik in kennis gestel en inligting verskaf oor die verdagte se bewegings.
“Twee polisie voertuie, een van die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings (FCS) en een van Tweeling se sigbare polisiëring, het vinnig gereageer en die verdagte opgespoor waar hy besig was om duim te gooi.
“Die FCS lede, wat in ‘n Mahindra-voertuig gereis het en in privaat klere was, het langs hom stilgehou. Die verdagte het die voertuig genader, blykbaar in die veronderstelling dat die insittendes hom ‘n saamry-geleentheid wou aanbied.
“Terwyl hy met die FCS lede gepraat het, het die verdagte die sigbare polisiëringsvoertuig met uniformlede agter die Mahindra sien stilhou,” het die SAPD gesê.
Die man het na bewering ‘n vuurwapen uitgepluk en op die uniform lede losgebrand. Die lede in die Mahindra het onmiddellik reageer en die verdagte is noodlottig gewond.
‘n Moordsaak is geopen in verband met die noodlottige skietery van die 36-jarige vrou. ‘n Geregtelike doodsondersoek is ook geregistreer rakende die dood van die 40-jarige verdagte, het SAPS gesê.
Die Provinsiale Kommissaris van die Vrystaat, Luitenant-generaal Thabang Lesia, het die wrede moord veroordeel en kommer uitgespreek oor die baie voorvalle wat verband hou met gesinsgeweld. Hy het verder die lede van die publiek wat die polisie onmiddellik in kennis gestel het en inligting verskaf het om die verdagte op te spoor, geprys vir hulle bydrae.
