Hanover Park tiener met vuurwapen betrap
Bende-eenheid kry ook 100 Mandrax tablette
Tiener met vuurwapen betrap
MISDAADTONEEL: Hanover Park, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n tiener gearresteer nadat hulle hom Donderdag, 2 Julie 2026 op heterdaad met ‘n vuurwapen betrap het.

Die Anti-Bende-eenheid was besig met patrollies om bendegeweld in Hanover Park te bestry toe hulle ‘n verdagte persoon in die pad sien loop. Toe hy die polisie sien, het hy begin hardloop.
Die SAPD het gesê die lede het die verdagte agternagesit, hom aangekeer en deursoek. Hulle het ‘n .22-pistool met 13 rondtes ammunisie in sy besit gevind. Die 19-jarige verdagte is gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die lede het toe ‘n perseel, ook in die Hanover Park-gebied, deursoek en 100 Mandrax-tablette en 10 rondtes ammunisie gekonfiskeer, wat hulle in die huis gevind het. Hulle het ‘n 38-jarige verdagte gearresteer vir die besit van Mandrax en die onwettige besit van ammunisie.
Die SAPD het gesê die doel van die operasies is om gemeenskappe te beskerm en vuurwapens uit die hande van misdadigers te verwyder.
