Anti-Bende-Eenheid
Bende-eenheid kry ook 100 Mandrax tablette
Tiener met vuurwapen betrap
MISDAADTONEEL: Hanover Park, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n tiener gearresteer nadat hulle hom Donderdag, 2 Julie 2026 op heterdaad met ‘n vuurwapen betrap het.

Die Anti-Bende-eenheid was besig met patrollies om bendegeweld in Hanover Park te bestry toe hulle ‘n verdagte persoon in die pad sien loop. Toe hy die polisie sien, het hy begin hardloop.
Die SAPD het gesê die lede het die verdagte agternagesit, hom aangekeer en deursoek. Hulle het ‘n .22-pistool met 13 rondtes ammunisie in sy besit gevind. Die 19-jarige verdagte is gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Die lede het toe ‘n perseel, ook in die Hanover Park-gebied, deursoek en 100 Mandrax-tablette en 10 rondtes ammunisie gekonfiskeer, wat hulle in die huis gevind het. Hulle het ‘n 38-jarige verdagte gearresteer vir die besit van Mandrax en die onwettige besit van ammunisie.
Die SAPD het gesê die doel van die operasies is om gemeenskappe te beskerm en vuurwapens uit die hande van misdadigers te verwyder.
Bende-eenheid teiken Hanover Park, Manenberg
Tieners in arres
MISDAADTONEEL: Hanover Park, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se anti-bende-eenheid het drie vuurwapens van die strate verwyder en drie mense gearresteer.

Tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie op Dinsdag, 23 Junie 2026 het die eenheid ‘n 19-jarige tiener in Lansry Walk gearresteer nadat hy in besit van ‘n verbode vuurwapen en agt rondtes ammunisie gevind is.
Opvolgoperasies het die span na ‘n perseel in dieselfde straat gelei, waar hulle ‘n 18-jarige tiener gearresteer het vir die besit van en handel in dwelms na die ontdekking van 15 sakkies Tik, 51 heroïensakkies en kontant.
Die operasie het toe na Cascade Court verskuif waar ‘n 27-jarige man gearresteer is toe hy in besit van ‘n verbode vuurwapen en 11 rondtes ammunisie gevind is.
Manenberg: In ‘n onverwante voorval was die polisie besig met sigbare patrollies omstreeks 17:00 op Dinsdag, 23 Junie 2026 toe hulle ‘n onwettige vuurwapen met 17 rondtes ammunisie op ‘n veld tussen die spoorlyne en Yusuf Dadoo-straat in Manenberg gevind het. ‘n Ondersoek is by die Manenberg SAPD geopen vir ondersoek.
Tweede massa-skietery in 24-uur
Koeëls eis 4 in Lotusrivier
MISDAADTONEEL: Lotusrivier, Kaapstad: Vier mans is Donderdagaand, 18 Junie 2026 in Lotusrivier doodgeskiet en nog een gewond.

Volgens ‘n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), brigadier Novela Potelwa, ondersoek speurders van die Wes-Kaapse anti-bende-eenheid die omstandighede rondom die voorval.
Potelwa het gesê vyf mans het omstreeks 22:30 voor ‘n woonstelblok op die hoek van Nita- en Olga-strate gesit toe ‘n voertuig met verskeie insittendes daar aankom.
“Die insittendes het uitgespring en op die slagoffers geskiet. Vier mans tussen die ouderdomme van 32 en 44-jaar is op die toneel dood en nog een is met ernstige beserings na ‘n mediese fasiliteit geneem.
“Polisie-ontplooiings in die gebied is sedertdien versterk verdere skietvoorvalle te verhoed. Grassy Park-polisie het moord- en poging tot moord-dossiere oopgemaak.
“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die motief vir die skietery bendeverwant is. Geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Potelwa gesê.
Donderdagaand se voorval was die tweede massa-skietery op die Kaapse Vlakte in net meer as 24-uur. Woensdagaand, 17 Januarie 2026, is ‘n 22-jarige man doodgeskiet en vier ander, onderskeidelik 24, 35, 36 en 48-jaar-oud, en ‘n 56-jarige vrou, beseer toe gewapende mans op hulle losgebrand het in Rio Grande Walk, Manenberg.
Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC van Wyk, het ‘n silwergrys motor af in Rio Grande Walk gery. Dit het stilgehou, die insittendes het uitgeklim en op die slagoffers begin skiet.
Polisiebeamptes wat in die gebied patrolleer het, het op die voorval reageer en met hul aankoms het die verdagtes op hulle geskiet. ‘n 42-jarige SAPD-beampte is as gevolg in sy kop beseer.
3 kinders, tiener gewond
Bloed vloei in Bontas
MISDAADTONEEL: Bonteheuwel, Kaapstad: Speurders van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se anti-bende-eenheid (ABE) ondersoek twee skietvoorvalle nadat vyf mense Dinsdagaand,14 April 2026 in Bonteheuwel gewond is.

In een voorval in Amandelstraat het ‘n groep mense buite ‘n winkel gestaan toe ‘n voertuig hulle nader, twee verdagtes uitgespring en op hulle begin skiethet. ‘n Tiener (16) en drie kinders van 12, 11 en 10-jaar-oud, is gewond. Die slagoffers is vir behandeling na ‘n mediese fasiliteit geneem.
In die tweede voorval in Citrusstraat is ‘n 30-jarige man uit ‘n bewegende voertuig in die rug geskiet. Hy is ook na ‘n hospitaal vervoer.
Volgens die polisie hou die skietery moontlik verband met bendegeweld. Geen arrestasies is nog gemaak nie.
▪Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se anti-bende-eenheid (ABE) is ‘n gespesialiseerde, nasionale eenheid wat in November 2018 van stapel gestuur teen kriminele bendesl. Die ABE fokus op onwettige vuurwapens, dwelms en bendeverwante moorde.
