Kimberley dwelm verdagte
Speurder ry polisiestasie toe terwyl dwelm verdagte slaap
AO te wakker vir vaak ryloper
MISDAADTONEEL: Upington, Noord-Kaap: ‘n Op en wakker polisiebeambte en ‘n vaak ryloper het direk tot laasgenoemde se arrestasie gelei vir die besit van dwelms.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was ’n adjudant-offisier (AO), verbonde aan die Upington-eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad, per motor op pad van Kimberley na Upington.
Volgens die SAPD het hy langs die pad gestop om ’n oproep te maak, toe ’n onbekende man wat verdag gelyk het, hom nader en vra vir ’n saamry geleentheid.
“Die beampte het ’n sterk reuk van dagga opgemerk wat uit die individu se sakke gekom het. Om nie agterdog te wek nie, het die beampte aangebied om hom ‘n lift te gee en ’n betaling van R200 vir die rit aanvaar.
“Tydens die rit het die 29-jarige verdagte aan die slaap geraak, en die beampte het reguit na die Upington-polisiestasie gery om hulp te kry om die man te deursoek. Tydens die deursoeking is 60 Mandrax-tablette ter waarde van R6 000, ’n sak hoë-gehalte-dagga ter waarde van R5 000 en los dagga ter waarde van R500 in sy besit gevind. Die verdagte is onmiddellik gearresteer vir die besit van dwelms,” het die SAPD gesê.
