Lentegeur massa skietery
Vrou ook gewond toe skieters mense in straat aanval
Drie sterf in Lentegeur-bloedbad
MISDAADTONEEL: Mitchells Plain, Kaapstad: Drie mense is doodgeskiet en een is gewond in nóg ‘n bloedbad in Kaapstad.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Wes-Kaap het nou ‘n soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat betrokke was by die skietvoorval in Lentegeur, Mitchells Plain, laat Woensdagaand, 30 September 2026.
Die polisie het omstreeks 23:15 op ‘n skietery in Blombos-straat reageer.
“Met hul aankoms het lede op twee mans met skietwonde afgekom. ‘n Derde man, wat ook skietwonde opgedoen het, is in Eislebenweg gevind nadat hy blykbaar van die skuts gevlug het. Al drie is op die toneel dood verklaar.
“‘n Vrou wat ernstige skietwonde opgedoen het, is vir mediese behandeling na die hospitaal vervoer,” het die SAPD gesê.
Vier gewapende verdagtes, wat in ‘n wit Nissan Almera met donker vensters gery het, het na bewering die slagoffers genader, op hulle losgebrand en van die toneel gevlug.
Die motief vir die skietery is nog nie amptelik vasgestel nie en vorm deel van die voortdurende ondersoek. Speurders van die Anti-Bende-eenheid ondersoek die voorval.
Volgens die SAPD volg die ondersoekspan alle beskikbare inligting op en kyk hulle na kringtelevisie- (CCTV) beelde en soek getuies wat kan help om die verdagtes te identifiseer.
Die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Sizakhele Dyantyi, het sy kommer uitgespreek oor skietery en ‘n beroep op ondersoekers gedoen om die verantwoordelikes vinnig te identifiseer en te arresteer.
Enigeen met inligting oor die voorval of weet waar die verdagtes skuil word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel of die MySAPS-App te gebruik.
