Manenberg massa-skietery
Tweede massa-skietery in 24-uur
Koeëls eis 4 in Lotusrivier
MISDAADTONEEL: Lotusrivier, Kaapstad: Vier mans is Donderdagaand, 18 Junie 2026 in Lotusrivier doodgeskiet en nog een gewond.

Volgens ‘n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), brigadier Novela Potelwa, ondersoek speurders van die Wes-Kaapse anti-bende-eenheid die omstandighede rondom die voorval.
Potelwa het gesê vyf mans het omstreeks 22:30 voor ‘n woonstelblok op die hoek van Nita- en Olga-strate gesit toe ‘n voertuig met verskeie insittendes daar aankom.
“Die insittendes het uitgespring en op die slagoffers geskiet. Vier mans tussen die ouderdomme van 32 en 44-jaar is op die toneel dood en nog een is met ernstige beserings na ‘n mediese fasiliteit geneem.
“Polisie-ontplooiings in die gebied is sedertdien versterk verdere skietvoorvalle te verhoed. Grassy Park-polisie het moord- en poging tot moord-dossiere oopgemaak.
“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die motief vir die skietery bendeverwant is. Geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Potelwa gesê.
Donderdagaand se voorval was die tweede massa-skietery op die Kaapse Vlakte in net meer as 24-uur. Woensdagaand, 17 Januarie 2026, is ‘n 22-jarige man doodgeskiet en vier ander, onderskeidelik 24, 35, 36 en 48-jaar-oud, en ‘n 56-jarige vrou, beseer toe gewapende mans op hulle losgebrand het in Rio Grande Walk, Manenberg.
Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC van Wyk, het ‘n silwergrys motor af in Rio Grande Walk gery. Dit het stilgehou, die insittendes het uitgeklim en op die slagoffers begin skiet.
Polisiebeamptes wat in die gebied patrolleer het, het op die voorval reageer en met hul aankoms het die verdagtes op hulle geskiet. ‘n 42-jarige SAPD-beampte is as gevolg in sy kop beseer.
