Noordkaap dwelms

 
 

Vrou gevang met babadoekies vol dwelms

Polisie draai nie doekies om

MISDAADTONEEL: Riemvasmaak, Noord-Kaap: ‘n Vrou wat na bewering dwelms in ‘n babadoekie versteek het terwyl sy met ‘n kind gereis het, is gearresteer.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Riemvasmaak het inligting ontvang oor die vrou van Vredesvallei wat na Augrabies gereis en na bewering dwelms gekoop het terwyl ‘n kind by haar gehad het.

Volgens die SAPD het die vinnige deel van inligting en effektiewe samewerking tussen Riemvasmaak en Augrabies SAPD Woensdag, 26 Augustus 2026 gelei tot die arrestasie van die 27-jarige. 

Die verdagte is in Augrabies aangekeer terwyl sy op pad was om ‘n taxi te haal. Sy het ‘n sak met babadoeke gedra, wat deur die polisie deursoek is.

“Tydens die deursoeking het lede dagga en Tik met ‘n geraamde straatwaarde van R1 800 in ‘n doekie ontdek.

“Sy sal na verwagting binnekort in die Augrabiese-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van besit van dwelms,” het die SAPD gesê.