Ottery skietery
Aanvallers wond ook tiener voor hulle vlug
Man in Ottery doodgeskiet
MISDAADTONEEL: Ottery, Kaapstad: ‘n Man is dood en ‘n tiener gewond tydens ‘n skietvoorval hier.

Die polisie het bevestig die voorval het Maandagaand, 9 November 2026, omstreeks 20:30 plaasgevind.
Volgens konstabel Ndakhe Gwala, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, het die Grassy Park-polisie ‘n saak van moord en poging tot moord geregistreer ná die skietery in Oxford-hof, Ottery.
“Volgens verslae was die slagoffers op pad na ‘n basketbalbaan toe hulle deur drie gewapende verdagtes genader is. Die verdagtes het op die slagoffers geskiet en in ‘n grys VW Polo van die toneel gevlug.
“’n 24-jarige man het verskeie beserings aan sy kop, gesig en liggaam opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Die tweede slagoffer, ‘n 15-jarige seun, het ‘n skietwond aan sy linkerbeen opgedoen en is vir behandeling na ‘n hospitaal vervoer.
“Die motief vir die aanval is bende-verwant, en niemand is tot dusver gearresteer nie,” het Gwala gesê.
Man op toneel dood verklaar
Twee in Ottery geskiet
MISDAADTONEEL: Ottery, Kaapstad: ‘n Man is dood en nog een gewond tydens ‘n skietery in Ottery Woensdagmiddag, 20 Mei 2026.

Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n mediaskakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, het die skietery omstreeks 17:20 in Hooggenoeg-hof, Ottery, plaasgevind.
Twigg het gesê ‘n 42-jarige man is deur onbekende verdagtes genader. Hulle het hom geskiet en van die toneel gevlug.
“Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar, terwyl ‘n 59-jarige man deur ‘n dwaalkoeël getref en na die hospitaal geneem is vir behandeling,” het hy gesê.
Mense met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.
