Plumstead kabel diewe gearrsteer
Privaat sekuriteit se spanwerk help met arrestasies
Twee vas oor kabel-diefstal
MISDAADTONEEL: Plumstead, Kaapstad: Uitstekende spanwerk deur SRU, Zone en Fidelity private sekuriteitsmaatskappye het vroeg Dinsdagoggend, 28 Julie 2026, gelei tot die arrestasie van twee verdagtes.

Nadat die verdagtes aangekeer is, is wetstoepassingsbeamptes van die Stad Kaapstad na die toneel in Plumstead ontbied waar hulle die verdagtes in besit van vermoedelike gesteelde PRASA-kabels, gevind het.
Albei verdagtes is gearresteer en die bewysstukke is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig.
“Welgedaan aan die wakker reaksie-beamptes van SRU Security, ondersteun deur Zone en Fidelity, wie se spanwerk tot hierdie arrestasie gelei het,” het JP Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, gesê.
“Hierdie private sekuriteitsmaatskappye ding elke dag met mekaar mee om kliënte. Die sukses van hulle besigheid is afhanklik daarvan om kliënte se alarmstelsels te monitor en privaat eiendom te beskerm.
“Tog, wanneer dit kom by die bekamping van misdaad in ons gemeenskappe, gaan dit nie oor mededinging nie, maar slegs oor die veiligheid van gemeenskapslede. Ons weet, en erken openlik, dat die SAPD nie altyd en oral kan wees nie,” het Smith gesê.
