Skietery op Robertson-plaas eindig tragies

 
 

Koeëls tussen polisie en man klap 'n hele dag

Tragiese einde aan plaas-skietery

MISDAADTONEEL: Robertson, Wes-Kaap: ‘n Skietgeveg tussen die polisie en ‘n gewapende man wat ‘n dag-lank aangehou het, het tragies geëindig toe die verdagte  doodgeskiet en ‘n polisielid beseer is.

Die oorledene is geïdentifiseer as Cornelius van Dalen (40) 

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die voorval op ‘n plaas in De Hoop, Robertson, plaasgevind. Dit het Sondagaand, 16 Augustus 2026, begin toe ‘n klagte by die plaaslike polisie oor ‘n man wat op ‘n buurman se motor geskiet hte, gelê is.

“Dit het uitgedraai in ‘n skietgeveg wat tot Maandag-aand, 17 Augustus 2026, voortgeduur het. ’n Polisielid is beseer en verskeie polisievoertuie is beskadig,” het SAPD gesê.

Die Robertson-polisie wat Sondagaand op die eerste klagte gereageer het, het onder skoot gekom van die gewapende man.

“Die taktiese reaksiespan (TRT) is later ontplooi om die konfrontasie te ontlont, maar die man het ook op hulle geskiet, wat daartoe gelei het dat een polisiebeampte ‘n skouer besering opgedoen het. Hy is in die hospitaal opgeneem.

“Die spesiale taakmag is ook Maandagmiddag by die plaas ontplooi. ‘n Hewige skietgeveg het gevolg toe die gewapende man op taakmaglede geskiet en ‘n polisie pantservoertuig (Nyala) beskadig het.

“Twee vroue wat in ‘n aangrensende huis was, is instussen ook gered. Die taakmag het later toegang tot die huis waaruit die 40-jarige man geskiet het, verkry. Hy us raakgeskiet en is op die toneel dood,” het die SAPD gesê.

‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen en die Onafhanklike Polisie Ondersoek-direktoraat is ook na die toneel ontbied.

‘n Aanvalsgeweer, ‘n haelgeweer, twee pistole, magasyne, ammunisie, vlae en nota boeke is gekonfiskeer.

Die waarnemende nasionale kommissaris van die SAPD, luitenant-generaal Puleng Dimpane, het die “vinnige en dapper ingryping deur die lede tydens die gewapende konfrontasie in Robertson, wat gelei het tot die dood van ‘n 40-jarige gewapende man”, geprys.