Somerset-Wes misdaadvoorkomingseenheid.

 
 

Kar verbind met huisroof en verkragting-sake

Verdagte vas ná jaagtog

MISDAADTONEEL: Somerset-Wes, Kaapstad: ‘n Hoëspoed-jaagtog op die N2 naby Somerset-Wes het geëindig met die arrestasie van ‘n buitelandse burger op ‘n reeks aanklagte.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die arrestasie van die 32-jarige man gevolg ná ‘n misdaad-bestrydingsoperasie deur die Somerset-Wes misdaad-voorkomingseenheid.

Dit het ook gelei tot die ontdekking van ‘n voertuig wat verbind word met verskeie huis rooftogte en verkragting in gebiede soos Kleinmond, Stellenbosch, Table View en Bothasig.

Die drama het begin toe die polisie Woensdag 8 Julie 2026 omstreeks 5:45 ‘n grys Honda BRV, wat met die bogenoemde sake verbind word, op die N2 opgemerk het.

Volgens die SAPD is ‘n poging aangewend om die voertuig te stop, maar die verdagte het teen ‘n hoë spoed op die N2 rigting Kaapstad, weggejaag. Tydens die jaagtog het die polisie gesien hoe twee sakke by die venster uitgegooi word. Hulle het die sakke gevind, gevul met ‘n vuurwapen wat tydens die rooftogte gebruik is en tegnologiese toerusting wat die vorige aand in Bettysbaai naby Kleinmond as gesteel aangemeld is.

Die verdagte is ‘n rukkie daarna vasgetrek en gearresteer vir die besit van ‘n onwettige  vuurwapen, besit van gesteelde eiendom, oortreding van die Immigrasiewet, asook roekelose en nalatige bestuur.