Stad Kaapstad rekord arrestasies
Meer as 500 mense agter tralies in 'n week
Stad se polisie ewenaar rekord
KAAPSTAD: Wetstoepassers van die Stad Kaapstad het die afgelope week tot Sondag 26 Julie 2026 ‘n rekord 527 arrestasies gemaak.

Die aantal arrestasies ewenaar die rekord wat vroeër vanjaar behaal is.
“Die druk op ons personeel is groot, maar hulle lewer steeds resultate. Elke arrestasie is egter nog ‘n herinnering aan hoe swak mense se gedrag is,” het die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, gesê.
Wetstoepassingsbeamptes het 334 arrestasies gemaak en 14 372 boetes uitgereik terwyl die Metropolisie 126 verdagtes gearresteer het.
Beamptes het ook drie onwettige vuurwapens, ‘n nagemaakte vuurwapen, nege rondtes ammunisie, verskillende dwelms en ses gesteelde en/of gekaapte voertuie teruggevind.
Verkeersbeamptes het 67 verdagtes gearresteer – 53 vir dronkbestuur, vier vir roekelose en nalatige bestuur en 10 op ander aanklagte. Hulle het 1 722 lasbriewe uitgevoer, 168 openbare Vervoer voertuie gekonfiskeer en 53 012 boetes uitgereik.
