Tafelberg stappers beroof
Drie vas na daar by motors ingebreek word
Skelms teiken Tafelberg-besoekers
MISDAADTONEEL: Tafelberg: Kaapstad se toerisme-seisoen kry momentum — maar misdaad by gewilde toeriste bestemmings, neem ook toe.

Sondagmiddag het beamptes van die Stad se Wetstoepassing Toerisme‑eenheid verdagtes onderskep nadat ’n voertuig se alarm naby Tafelberg afgegaan het.
Twee vroue is gesien terwyl hulle weg van die voertuig beweeg en in ’n Uber-kar geklim het. Die Uber is deur beamptes gestop en binne is ’n manlike passasier met vermoedelik gesteelde goedere aangetref.
Verdere ondersoeke het getoon dat daar met verskeie voertuie in die omgewing gepeuter is. Toe besoekers vanaf hulle staproetes terugkeer, het van hulle bevestig dat items wat in hul motors versteek was, weg is. Die gesteelde goedere is teruggevind en die verdagtes is gearresteer.
JP Smith, die Stad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, het beklemtoon dat die beskerming van toeriste noodsaaklik is vir Kaapstad se ekonomie.
“Toerisme is veel meer as besoekers wat foto’s neem en geld spandeer in ons stad. Dit ondersteun duisende mense in die akkommodasie, restaurant, vervoer, kleinhandel en toeroperateur-sektore sowel as baie ander besighede wat deel vorm van die toerisme‑ekonomie,” het hy gesê.
Smith het bygevoeg dat sigbare polisiëring by sleutel‑toerismeplekke opgeskerp word.
“Ons boodskap is duidelik: ons wil hê besoekers moet die beste van Kaapstad ervaar, en ons sal aanhou werk om te verseker dat kriminele aktiwiteite nie die reputasie van ons stad as toerisme bestemming ondermyn nie.”
Owerhede het besoekers aangeraai om waaksaam te bly, hul voertuie te beveilig en nie waardevolle items in hulle voertuie te los nie — selfs wanneer dit buite sig versteek word.
