Witsand Moord

 
 

Slagoffer weier om 'protectors' te betaal

Afpersers vermoor sakeman

Die South African National Civic Organisation (Sanco) in Witsand, Atlantis, het die moord op ‘n winkeleienaar en die skietery van nog ‘n ander sakeman, na bewering deur afpersers, sterk veroordeel.

Sanco se JS Masakala-tak het gesê hy is diep geskok en hartseer oor die moord van Peter Davidson en die ander sakeman.

Davidson is Vrydagaand 3 Julie 2026 doodgeskiet terwyl hy sy winkel in Chris Hanistraat, Witsand, omstreeks 21:00 toegemaak het.

Volgens Sanco het Davidson dreigemente ontvang van mense wat beweer het dat hulle “beskermers” is, maar hy het geweier om in te gee vir hul eise om vir sy veiligheid te betaal.

“Die dreigemente is herhaaldelik aan die owerhede gerapporteer en kriminele sake is aanhangig gemaak.

“As gemeenskapsleiers het ons versoek dat hierdie sake as dringend behandel word weens die risiko wat dit vir die lewens van sake-eienaars en inwoners inhou.

“Mnr. Davidson was ‘n gerespekteerde lid van die Luphulo Business Forum. Hy was ‘n toegewyde, nederige en hardwerkende individu wat ‘n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkeling van die gemeenskap gemaakj het.”

“Sy tragiese dood is nie net ‘n verlies vir sy familie nie, maar vir die hele Witsand-gemeenskap. Ons doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om hierdie ondersoek te prioritiseer en te verseker dat diegene wat verantwoordelik is, sonder versuim gearresteer word.

“Die SAPD moet verder afpersingsnetwerke wat in ons gemeenskappe uitlig en  stopsit. Inwoners en sake-eienaars verdien om sonder vrees vir intimidasie, geweld en moord te leef en te werk,” het Sanco gesê.

Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, is die 53-jarige Davidson, wat een skietwond opgedoen het, in die hospitaal dood verklaar.

Atlantis-polisie ondersoek ‘n moordsaak.

Enigiemand met inligting oor hierdie skietvoorval kan Stop Misdaad kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.