Atlantis skietery

 
 

Polisie vermoed afpersing speel rol

Buitelandse barbier geskiet

MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: In nog ‘n voorval wat montlik verbind kan word aan afpersing, is ‘n buitelander in Witsand, Atlantis, geskiet.

Kaptein FC Van Wyk, ‘n skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, het gesê die Atlantis-polisie het ‘n saak van poging tot moord geregistreer ná die voorval wat Dinsdagaand, 4 Augustus 2026 omstreeks 19:20 in Bhabhathanestraat plaasgevind het.

“Die 40-jarige manlike haarkapper is in sy regterbobeen geskiet. Die slagoffer is na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling. Die motief kan vermoedelik afpersing wees en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Van Wyk gesê.

Enigiemand met inligting oor die voorval word vriendelik versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.


Twee mans ook gewond toe verdagtes losbrand

Tiener sterf in Atlantis-skietery

MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: Drie mense geskiet, waarvan een noodlottig, toe gewapende verdagtes Woensdagaand, 29 Julie 2026, in Witsand op hulle losgebrand het.

Volgens ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sersant Wesley Twigg, het die polisie omstreeks 19:55 op ‘n skietvoorval in Thambo-straat, Witsand, Atlantis, gereageer.

“Toe die lede op die toneel aankom, het hulle die slagoffers met skietwonde aan hul liggame aangetref. ‘n 19-jarige man is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar, terwyl die ander slagoffers, 21 en 27-jaar-oud, na ‘n mediese fasiliteit vervoer is vir behandeling.

“Die verdagtes het van die toneel gevlug en die motief vir die aanval moet nog bepaal word. Speurders van Atlantis ondersoek moord- en poging tot moordsake,” het Twigg gesê.

Enigiemand met enige inligting oor die voorval kan Misdaad kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.