Bishop Lavis jaagtog
Wilde jaagtog in Bishop Lavis eindig in arrestasies
Drie vas na skote op polisie
MISDAADTONEEL: Bishop Lavis, Kaapstad: Drie mans, wat na bewering op die polisie geskiet het tydens ‘n wilde jaagtog deur die strate van Bishop Lavis, sit in die selle.

‘n Media skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC Van Wyk, het gesê lede van Operasie Lockdown 3 het Saterdagaand, 16 Mei 2026 anti-misdaad operasies in Myrtle-weg, Bishop Lavis uitgevoer.
Volgens Van Wyk het die polisie omstreeks 23:45 ‘n swart VW Polo Playa genader, maar die motor se insittendes het besluit om weg te jaag en in die proses op die polisie geskiet.
“Die lede het vining reageer en die kar agterna te sit. Die verdagtes is in Civic-weg, Matroosfontein, Elsiesrivier, vasgetrek.
“’n 9mm Glock-vuurwapen met vier rondtes ammunisie en 11 gebruikte patrone is in hul besit gevind. Alle bewysstukke, insluitend die Polo en vuurwapen, is gekonfiskeer,” het hy gesê.
Die drie insittendes, onderskeidelik 34, 36 en 42-jaar-oud, sal in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie sodra hulle aangekla is.
Nie een van die polisielede is beseer nie.
