Elsiesrivier

 
 

Twee gaan in, toe klap die skote

Jongman in huis vermoor

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: ‘n Jongman is Maandagoggend, 18 Mei 2026 omstreeks 10:35 in sy huis vermoor toe twee skurke binnegegaan en hom geskiet het.

Die ambulans en polisie op die toneel waar ‘n jongman in sy huis vermoor is. Foto: Facebook

‘n Moordsaak is by die Elsiesrivier-polisiestasie oopgemaak na die voorval wat in Bourne-weg, Leonsdale, plaasgevind het, het Thembakazi Mpendukana van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor gesê.

Volgens berigte het twee onbekende mans die slagoffer se huis binnegegaan en begin skiet. Die polisie het op die toneel aangekom en die liggaam van ‘n 23-jarige man dood in die huis gevind.

Die omstandighede rondom hierdie voorval word tans ondersoek en geen arrestasie is nog gemaak nie, het Mpendukana gesê.


Wilde jaagtog in Bishop Lavis eindig in arrestasies

Drie vas na skote op polisie

MISDAADTONEEL: Bishop Lavis, Kaapstad: Drie mans, wat na bewering op die polisie geskiet het tydens ‘n wilde jaagtog deur die strate van Bishop Lavis, sit in die selle.

‘n Media skakelbeampte van die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC Van Wyk, het gesê lede van Operasie Lockdown 3 het Saterdagaand, 16 Mei 2026 anti-misdaad operasies in Myrtle-weg, Bishop Lavis uitgevoer.

Volgens Van Wyk het die polisie omstreeks 23:45 ‘n swart VW Polo Playa genader, maar die motor se insittendes het besluit om weg te jaag en in die proses op die polisie geskiet.

“Die lede het vining reageer en die kar agterna te sit. Die verdagtes is in Civic-weg, Matroosfontein, Elsiesrivier, vasgetrek.

“’n 9mm Glock-vuurwapen met vier rondtes ammunisie en 11 gebruikte patrone is in hul besit gevind. Alle bewysstukke, insluitend die Polo en vuurwapen, is gekonfiskeer,” het hy gesê.

Die drie insittendes, onderskeidelik 34, 36 en 42-jaar-oud, sal in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie sodra hulle aangekla is.

Nie een van die polisielede is beseer nie.


Spanwerk help om misdaad te oorwin

Gewapende man loop rieme styf

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: As die gemeenskap saam met die polisie werk, kan misdaad oorwin word.

Dit is weer op 21 April 2026 bewys toe goeie samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die gemeenskap tot die arrestasie van ‘n 35-jarige gewapende verdagte gelei het.

Op dié dag, omstreeks 08:30, het Maitland se blitspatrollie ‘n klagte van ‘n skietery in Avonwood, Elsiesrivier ontvang.

Die polisie het vinnig reageer en mense in die gemeenskap het aan hulle uitgewys in watter rigting die verdagte gehardloop het. Die man is kort daarna aangekeer en ‘n 9mm Taurus-pistool met vyf rondtes ammunisie is in sy besit gevind.

Hy is by die Elsiesrivier-polisiestasie aangehou vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, en sal in die Goodwood-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.

Die polisie het ‘n beroep op die publiek gedoen om enige kriminele aktiwiteite op die MySAPS app aan te meld of Crime Stop te skakel by 08600 10111.