Browns Farm afpersers
Afpersers eis R2000, toe skiet hulle
Koeldrank kos byna man sy lewe
MISDAADTONEEL: Browns Farm, Kaapstad: ‘n Paar koeldranke het amper ‘n afleweringsman sy lewe gekos nadat hy voor ‘n winkel geskiet is, na bewering deur afpersers.

Volgens die mediakantoor van die Wes-Kaapse polisie het die Nyanga-polisie Donderdag 4 Junie 2026 omstreeks 14:55 gereageer op ‘n skietery in Nzinziniba-straat in Browns Farm.
Toe die polisie by die toneel aankom, het hulle die slagoffer voor ‘n winkel gevind met ‘n skietwond aan sy kop. Hy is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
Volgens berigte was die slagoffer besig om koeldrank by die winkel af te lewer toe twee verdagtes hom nader en R2000 kontant geëis het. Die winkeleienaar het die winkel toegemaak en die slagoffer en sy kollegas alleen buite gelos.
Hulle het probeer vlug, maar die verdagtes het losgebrand en die 44-jarige man gewond. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek en die verdagtes is steeds op vrye voet.
