Hanover Park vuurwapen
Polisie vang ook afpersers in ander geval
Roof verdagte gou gevang
MISDAADTONEEL: Heathfield, Kaapstad: Privaat sekuriteitswagte en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vinnig reageer en ‘n verdagte gearresteer minute nadat ‘n supermark Woensdagmiddag, 29 Julie 2026 beroof is.

Sersant Wesley Twigg, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sê die Kirstenhof-polisie het ‘n saak van sakeroof oopgemaak ná ‘n rooftog by ‘n supermark in Hoofweg, Heathfield, omstreeks 12:30.
“Onbekende verdagtes het die winkel binnegegaan en een van die klante van haar selfoon beroof. Die verdagtes het van die toneel gevlug toe sekuriteitswagte opdaag.
“Ons kan bevestig dat een volwasse man gearresteer is toe hy in besit van die selfoon wat aan die klant behoort gevind is,” het Twigg gesê.
Toe Crime Scene Report se verslaggewer by die toneel aankom, was die verdagte agter in ‘n polisievangwa toegesluit en die toneel afgesper, terwyl die polisie dit vir moontlike leidrade gefynkam het.
Geen beserings is op die toneel aangemeld nie.
Nyanga: Pogings om afpersing in die Nyanga-gebied te bekamp, het sukses opgelewer toe polisielede twee verdagtes gearresteer het.
Lede van die Nyanga-polisie het patrollies in Mfenyane-weg uitgevoer toe hulle inligting ontvang het oor twee skobbejakke wat besig was om winkeleienaars af te pers.
Die SAPD sê hulle het die inligting opgevolg en mans wat by die beskrywing pas gesien. Toe die verdagtes die polisie gewaar, het hulle gevlug, maar is met behulp van die gemeenskap aangekeer. ‘n 9 mm-pistool met ammunisie en ‘n nagemaakte vuurwapen is gekonfiskeer.
Die verdagtes, onderskeidelik 21 en 24-jaar-oud, staar aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, asook die besit van ‘n nagemaakte vuurwapen in die gesig.
Hanover Park: In ‘n onverwante saak het lede van die Anti-Bende-Eenheid voetpatrollies in Petunia-straat, Hanover Park, gedoen toe hulle opmerk hoe ‘n verdagte begin hardloop toe hy hulle sien.
“Die polisie lede het die verdagte agternagesit en hy iets laat val terwyl hy hardloop. By verdere ondersoek het hulle ‘n 9 mm-pistool met ammunisie in ‘n erf gevind. ‘n Ondersoek na die oorsprong van die vuurwapen is geopen,” het die SAPD gesê.
Polisie kry 9mm pistool in haar besit
Meisie (17) vas oor vuurwapen
MISDAADTONEEL: Ottery, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n 17-jarige meisie Sondag, 28 Junie 2026 gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Lede van die Anti-Bende-eenheid het ‘n perseel in Hooggenoeg-hof, Ottery, deursoek en ‘n 9 mm-pistool met sewe rondtes ammunisie gekonfiskeer. Die meisie is gearresteer en sal Maandag, 29 Junie 2026 in die Wynberg-landdroshof verskyn.
Hanover Park: In ‘n ander voorval het die Anti-Bende-eenheid inligting opgevolg oor ’n vuurwapen by ‘n perseel in Mentz-hof. Hulle het Sondag, 28 Junie 2026 die plek deursoek en ‘n 9mm-pistool met 23 rondtes ammunisie in die huis gevind.
‘n 42-jarige man is gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die polisie het gesê die operasies is deel van voortgesette pogings om vuurwapens uit gemeenskappe te verwyder en hulle te beveilig.
Bende-eenheid teiken Hanover Park, Manenberg
Tieners in arres
MISDAADTONEEL: Hanover Park, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se anti-bende-eenheid het drie vuurwapens van die strate verwyder en drie mense gearresteer.

Tydens ‘n intelligensie-gedrewe operasie op Dinsdag, 23 Junie 2026 het die eenheid ‘n 19-jarige tiener in Lansry Walk gearresteer nadat hy in besit van ‘n verbode vuurwapen en agt rondtes ammunisie gevind is.
Opvolgoperasies het die span na ‘n perseel in dieselfde straat gelei, waar hulle ‘n 18-jarige tiener gearresteer het vir die besit van en handel in dwelms na die ontdekking van 15 sakkies Tik, 51 heroïensakkies en kontant.
Die operasie het toe na Cascade Court verskuif waar ‘n 27-jarige man gearresteer is toe hy in besit van ‘n verbode vuurwapen en 11 rondtes ammunisie gevind is.
Manenberg: In ‘n onverwante voorval was die polisie besig met sigbare patrollies omstreeks 17:00 op Dinsdag, 23 Junie 2026 toe hulle ‘n onwettige vuurwapen met 17 rondtes ammunisie op ‘n veld tussen die spoorlyne en Yusuf Dadoo-straat in Manenberg gevind het. ‘n Ondersoek is by die Manenberg SAPD geopen vir ondersoek.
