Tafelsig dwelms

 
 

Vermeende afpersers vasgetrek

Polisie slaan in die nag toe

MISDAADTONEEL: Browns Farm, Kaapstad: Die polisie het vandeesweek week twee vermeende afpersers gearresteer en terselfdertyd onwettige vuurwapens gekonfiskeer.

Lede van Operasie Lockdown 3 het Donderdag, 4 Junie 2026, omstreeks 01:00 na ‘n huis in Browns Farm gegaan nadat hulle inligting ontvang het oor ‘n vermeende afperser.

Met hulle aankoms by die huis in Kamela-straat het hulle die verdagte daar gekry. Die polisie het die huis deursoek en op ‘n haelgeweer, toegedraai in plastiek, onder die verdagte se bed afgekom.

Die 41-jarige man is gearresteer vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Marikana informele nedersetting: Die dag tevore, Woensdag 3 Junie 2026, is ‘n 35-jarige man, wat deur misdaad-intelligensie uitgewys is vir beweerde betrokkenheid by afpersing, by sy huis in Marikana gearresteer.

Sy huis is omstreeks 23:00 deursoek en die polisie het ‘n 9 mm-pistool en nege rondtes ammunisie gevind.

Tafelsig: Die openbare orde-eenheid het Woensdag, 3 Junie 2026 ‘n 35-jarige man in Tierkloof-straat, Tafelsig, gearresteer vir die besit van dwelms. Die arrestasie het gekom toe die polisie in die gebied gepatrolleer en ‘n wenk oor dwelms by ‘n huis in die buurt ontvang het. Hulle het die huis deursoek en 20 sakkies kokaïen, sewe plastieksakke en ses rolle dagga gevind.