Twee mans in Ceres hof gevonnis
Geweld teen vroue 'n groot probleem in Ceres, hoor hof
Twee sit lank oor GBV
UIT DIE HOF: Die Ceres-streekshof het twee mans wat hul intieme lewensmaats gewelddadig aangerand het, vir lank tronk toe gepos.

In die eerste saak is Werner Pedro tot ‘n effektiewe 25 jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Pedro is skuldig bevind en gevonnis nadat hy ‘n pleit- en vonnis-ooreenkoms met die Staat aangegaan het. Hy het erken dat hy sy vrou, Petronella Pedro, op die aand van 24 Maart 2024 by hul woning op die plaas Welgemeen, Prince Alfred Hamlet, gekonfronteer het oor hy gedink het sy is ontrou.
Toe sy dit ontken, het hy woedend geword, ‘n klip opgetel en haar teen die kop geslaan. Hy het haar daarna verder aangerand deur haar met ‘n klein hout tafel te slaan en haar te skop nadat sy op die grond geval het.
Die egpaar het daarna na die Petronella se tante gegaan, waar die polisie ontbied en Pedro gearresteer is.
Nadat hy op borgtog vrygelaat is, het Pedro vir Petronella op 23 Februarie 2026 weer aangerand nadat sy geweier het om sy klere te was. Hy het erken dat hy kwaad geword, want hy wou skoon klere vir werk die volgende dag hê.
‘n Buurman het ingegryp en Pedro het van die toneel gevlug. Ten tye van die aanranding het die slagoffer ‘n beskermingsbevel teen hom gehad. Hy is op 16 Maart 2026 gearresteer.
In haar impak verslag sê Petronella sy is teleurgesteld oor Pedro se gedrag en die skending van vertroue in hul verhouding. Die hof het ook die ernstige beserings wat sy opgedoen het in ag geneem.
In die tweede saak is Francois Rooi tot ‘n effektiewe 15 jaar tronkstraf gevonnis vir poging tot moord op sy voormalige lewensmaat, Latisha Beukes.
Ingevolge sy pleit- en vonnis-ooreenkoms het Rooi erken dat hy op 7 November 2025 in Vyeboom-straat, Bella Vista, Ceres, vir Beukesa aangerand het. Hy het haar genader, geëis dat sy sê waar sy met hom staan en versoek dat sy ‘n paar tekkies wat hy vir haar gekoop het, teruggee.
Nadat sy die tekkies teruggegee het, het Beukes hom meegedeel dat sy uit die verhouding gaan stap. Dit het Rooi vererg, hy het ‘n knipmes uitgehaal en haar een keer in die rug gesteek voordat hy van die toneel gevlug het. Hy is ongeveer ‘n week later gearresteer.
Die staatsaanklaer, Chantal de Vos, het in albei sake aangevoer dat gesinsgeweld steeds ‘n ernstige en algemene misdryf in die jurisdiksiegebied van die Ceres-landdroshof is, en dat die howe gepaste vonnisse moet oplê om kwesbare slagoffers te beskerm en oortreders af te skrik.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê die suksesvolle vervolgings onderstreep die NVG se onwrikbare verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBV) en om oortreders aanspreeklik te hou.
Die NVG het gesê hierdie skuldigbevindings en vonnisse bevestig die strafregstelsel se verbintenis om slagoffers te beskerm, terwyl dit ‘n sterk boodskap uitstuur dat oortreders van geweld teen vroue aanspreeklik gehou sal word.
