Khayelitsha kapers gevang

 
 

Verdagtes probeer hardloop, maar kom nie we

Polisie vang gou kapers

KAAPSTAD: Vinnige optrede deur die Metrop Polisie se eenheid teen motorkapings het gelei tot die arrestasie van vier verdagtes.

Foto slegs vir illustrasie doeleindes.

Die eenheid is Sondag, 27 September 2026, ongeveer 15:36, in kennis gestel van ‘n silwer Toyota Corolla wat in TT-seksie, Site B, Khayelitsha gekaap is.

Beamptes het die voertuig by die kruising van Govan Mbeki-weg en Oscar Mpetha-rylaan opgespoor. Toe hulle nader beweeg, het twee verdagtes uit die voertuig gespring en weggehardloop.

Die beamptes het hulle agternagesit gearresteer saam met twee ander wat nog in die voertuig was, insluitend ‘n 15-jarige seun.

“Dit is bemoedigend om te sien hoe doeltreffend die personeel van dié eenheid op hierdie voorvalle reageer. Dit wys ons gereed om op te tree sodra die sake by die Stad aangemeld word.

“Maar die sindikate agter hierdie kapings moet gestuit word, net soos die afpersingsindikate wat die gemeenskappe teister,” het JP Smith, die Stad burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Vir die afgelope week het die Metropolisie 211 verdagtes gearresteer – insluitend 104 vir dronkbestuur – en 3 819 boetes uitgereik.

Daarbenewens het hulle ‘n hoeveelheid dwelms gekonfiskeer en verskeie gekaapte voertuie teruggevind.

Wetstoepassing-beamptes het 214 arrestasies uitgevoer en 11 521 boetes tydens weeklikse patrollies uitgereik.

Op die paaie het verkeersbeamptes 51 verdagtes gearresteer – 36 vir dronkbestuur, 11 vir roekelose en nalatige bestuur en vier op ander aanklagte. Hulle het 1 749 lasbriewe uitgevoer, 108 openbare vervoervoertuie geskut en 42 118 boetes uitgereik.

“Inwoners van die Stad kan wetteloosheid by ons inbelsentrum aanmeld deur 021 480 7700 te skakel of die Stad se App te gebruik om ‘n voorval direk by Veiligheid en Sekuriteit aan te meld,” het Smith gesê.