Maitland blitspatrollie

 
 

Sein-jammers in voertuig gevind

Twee vermeende kar diewe vasgetrek

MISDAADTONEEL: Bellville, Kaapstad: Twee vermeende voertuig jammers is deur die Maitland-blitspatrollie gevang.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het blitspatgrollie-lede Donderdag, 11 Junie 2026 inligting ontvang oor ‘n voertuig met twee insittendes wat verdag in parkeerareas en buite winkelsentrums in Bellville rondry.

Die blitspatrollie het reageer en die verdagtes se voertuig in Maree-straat, Oakdale, voorgekeer en deursoek.

Die polisie het twee elektroniese sein-jammers en gereedskap wat gebruik kan word om motors mee in te breek, binne die verdagtes se voertuig gevind.

Die mans, onderskeidelik 32 en 48-jaar-oud, is gearresteer en hul voertuig is aan ‘n motor huur maatskappy terugbesorg.


Spanwerk help om misdaad te oorwin

Gewapende man loop rieme styf

MISDAADTONEEL: Elsiesrivier, Kaapstad: As die gemeenskap saam met die polisie werk, kan misdaad oorwin word.

Dit is weer op 21 April 2026 bewys toe goeie samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die gemeenskap tot die arrestasie van ‘n 35-jarige gewapende verdagte gelei het.

Op dié dag, omstreeks 08:30, het Maitland se blitspatrollie ‘n klagte van ‘n skietery in Avonwood, Elsiesrivier ontvang.

Die polisie het vinnig reageer en mense in die gemeenskap het aan hulle uitgewys in watter rigting die verdagte gehardloop het. Die man is kort daarna aangekeer en ‘n 9mm Taurus-pistool met vyf rondtes ammunisie is in sy besit gevind.

Hy is by die Elsiesrivier-polisiestasie aangehou vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, en sal in die Goodwood-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.

Die polisie het ‘n beroep op die publiek gedoen om enige kriminele aktiwiteite op die MySAPS app aan te meld of Crime Stop te skakel by 08600 10111.