Delft dwelms en vuurwapens

 
 

Verdagte ook gearresteer oor nagemaakte vuurwapens

Polisie slaan hard teen dwelms

MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: Vier mense – twee mans en twee vroue – is gearresteer op aanklagte wat verband hou met dwelms en onwettige vuurwapens.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lede verbonde aan Operasie Prosper – wat in die Delft ontplooi is om die voortdurende vuurwapengeweld, onwettige dwelmhandel en afpersing te bekamp – die arrestasies op Dinsdag, 22 September 2026, uitgevoer.

Die polisie het inligting opgevolg oor onwettige aktiwiteite in Hodna-straat, Delft.

“Hulle het ‘n 38-jarige man op die perseel deursoek en hy is in besit van ‘n 9mm-pistool, 45 rondtes ammunisie en 188 Mandrax-tablette gevind. Hy is op die toneel gearresteer.

“Later het hulle inligting opgevolg oor dwelmaktiwiteite by ‘n perseel in Sandriver-singel, Leiden. ‘n 47-jarige man is gearresteer vir die besit van twee namaak-vuurwapens en 40 sakkies tik,” het die SAPD gesê.

‘n 39-jarige vrou is later by ‘n perseel in Verlore-straat, Leiden, Delft, gearresteer nadat sy deursoek is en na bewering in besit van 53 sakkies Tik en ‘n onbekende hoeveelheid Tik wat nog verpak moes word, betrap is.

Die SAPD het gesê hulle het ook inligting opgevolg oor ‘n vrou wat dwelms verkoop by ‘n perseel in Mahli-straat, N2 Gateway, Delft. ‘n 46-jarige vrou is na bewering in besit van 420 sakkies Tik gevind en gearresteer.

KRAAIFONTEIN: SAPD-lede wat in Scottsdene, Kraaifontein, patrollie gedoen het, het inligting opgevolg dat iemand drank sonder ‘n lisensie verkoop. Met hul aankoms by die perseel in Bontebok-straat het hulle ‘n groot hoeveelheid alkohol gevind.

Toe die huiseienaar gevra is vir sy taverne lisensie, kon hy dit nie wys nie. Die 32-jarige man is gearresteer vir die verkoop van drank sonder ‘n lisensie.

RETREAT: Die polisie het ‘n 37-jarige vrou in hegtenis gearresteer wat na bewering in besit gevind is van 21 pakkies kokaïen by ‘n Wendy-huis in Beethoven-straat.