Operasie lockdown

 
 

Twee vas toe ammunisie en dwelms ook gevind word

Deurbraak teen onwettige vuurwapens

MISDAADTONEEL: Ottery, Kaapstad: Die polisie het ‘n deurbraak gemaak in die stryd teen onwettige vuurwapens en ammunisie toe lede van Operasie Lockdown III twee verdagtes gearresteer het.

Dinsdag 26 Mei 2026 het die polisie inligting ontvang van ‘n verdagte wat moontlik in die besit van vuurwapens by ‘n perseel in Hohenort Court, Conrad Way, Ottery sou wees.

Kaptein Frederick C van Wyk, ‘n Wes-Kaapse polisie-mediaskakelbeampte, het gesê die lede het Woensdagoggend om 00:40 ‘n taktiese operasie by die adres uitgevoer en die bewoner en perseel deursoek.

“’n 9mm-pistool met die reeksnommer verwyder, ‘n tweede magasyn sowel as 17 rondtes ammunisie is in sy besit gevind. Die vuurwapen met die ammunisie is gekonfiskeer en die 36-jarige verdagte is in hegtenis geneem,” het Van Wyk gesê.

Die lede het ook inligting opgevolg dat ‘n woonstel in Ottery as ‘n wegsteekplek vir vuurwapens en ammunisie asook dwelmhandel gebruik word.

“Omstreeks 01:00 is ‘n taktiese operasie by die tweede adres uitgevoer. Met aankoms by die perseel het die span die deursoeking uitgevoer. ‘n Man het uit ‘n slaapkamer na die toilet beweeg terwyl die lede besig was en iets onder die bad gegooi.

“Na verdere ondersoek is ‘n silwer Smith en Wesson-rewolwer teruggevind. Lede het met hul soektog voortgegaan en ses sakkies dagga is in ‘n klein houer gevind.

“’n 44-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen sonder ammunisie,” het Van Wyk gesê.

Albei verdagtes moet op Vrydag 29 Mei 2026 in die Wynberg-landdroshof verskyn.


Ammunisie, dwelms gekonfiskeer

Sukses vir Operasie Lockdown

MISDAADTONEEL: Athlone, Kaapstad: Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verbonde aan Operasie Lockdown het twee verdagtes in afsonderlike voorvalle gearresteer. Die voorvalle het Donderdag 14 Mei 2026 en Vrydag 15 Mei 2026 plaasgevind.

Die polisie het omstreeks 17:30 in Athlone operasies uitgevoer en ‘n aantal persele deursoek. By ‘n huis in Sysamoreweg het hulle ‘n 40-jarige man met 31 Mandrax-tablette en twee halwe Mandrax-tablette in sy besit gevang.

KHAYELITSHA: Omstreeks 00:20 op Vrydag 15 Mei 2026 het die Operasie Lockdown-lede 116 rondtes ammunisie in Kamastraat, Site C, ontdek en ‘n 23-jarige vrou is gearresteer vir die onwettige besit van ammunisie.


Man lei polisie na wapens by woonstelblok

Skietgoed se wegsteekplek gevind

MISDAADTONEEL: Ravensmead, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n vermeende bendeleier gearresteer en ‘n klein arsenaal, wat na bewering in sy besit gevind is, gekonfiskeer.

Lede van Operasie Lockdown Three het die 33-jarige verdagte in Ravensmead vasgetrek waar ‘n R5-geweer, ‘n haelgeweer, drie pistole, meer as 160 rondtes ammunisie en verskeie magasyne gekonfiskeer is.

Vier van die vyf onwettige vuurwapens se reeksnommers is afgevyl.

Die span het opgetree op grond van intelligensie oor die verdagte, wat na bewering die bende se vuurwapens beheer het, en na ‘n geïdentifiseerde adres gegaan. Die verdagte het hulle na ‘n woonstelblok in Ravensmead, waar die wapens en ammunisie versteek was, geneem.

Die verdagte sal binnekort in die Parow-landdroshof verskyn.


Hy vat pad, maar polisie te vinnig

Man sit oor vuurwapen

MISDAADTONEEL: Bonteheuwel, Kaapstad: ‘n Man sit agter tralies nadat die polisie hom met ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie betrap het.

Op Donderdag 16 April 2026 omstreeks 23:15 was die polisie lede van Operasie lockdown III besig om die strate van Bonteheuwel te patrolleer toe hulle iemand gewaar wat begin hardloop het toe hy die polisievoertuig sien.

Hy het na bewering iets op die grond gegooi en by ‘n erf in Juniper-straat ingehardloop. Die polisie het hom agterna gesit en in die proses ‘n .38 Special-rewolwer, 27 rondtes .38 Special-ammunisie en 28 rondtes 9mm-ammunisie opgetel. Hy is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Hy sal in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn nadat hy aangekla is.

https://maps.app.goo.gl/nqfXVorNwMr44po19