Steenberg polisie

 
 

Man beweer hy is ontvoer toe hy vrou gaan optel

2 vroue verkrag my, sê bestuurder

MISDAADTONEEL: Heathfield, Kaapstad: Steenberg-polisie het ‘n 25-jarige e-hailing bestuurder gered nadat hy na bewering deur twee vroue en drie mans verkrag en vir ‘n losprys aangehou is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die slagoffer se broer hulle in kennis gestel dat hy Saterdag, 12 September 2026, deur die verdagtes gekontak is en dat hulle R4000 kontant eis vir sy vrylating.

“Hulle het die slagoffer deur middel van sy voertuig se opsporingstel in Southampton-weg in Heathfield opgespoor,” het die SAPD gesê.

Die slagoffer het een van die vroue na bewering verlede week deur sy e-vervoerbesigheid ontmoet. Hulle het nommers uitgeruil, deur die loop van die week gekommunikeer en uiteindelik reëlings getref om mekaar Saterdag te ontmoet.

“Toe hy na haar gaan, is hy na bewering deur die verdagtes ontvoer en het die vroue hom verkrag,” volgens die SAPD.

Die polisie het die twee vroue, onderskeidelik 23 en 34-jaar-oud, saam met drie manlike verdagtes van 16, 42 en 48-jaar gearresteer.


'Argument lei moontlik tot steek-dood'

Meisies vas na moord op vrou (59)

MISDAADTONEEL: St Montague Village, Kaapstad: Twee tiener meisies is gearresteer in verband met die moord op ‘n bejaarde vrou in St Montague Village naby Lavender Hill.

Die vrou is geïdentifiseer as Joyce Waterloo en daar word vermoed dit is ‘n geval van gesinsgeweld.

Sersant Wesley Twigg, ‘n mediaskakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sê volgens inligting was die 59-jarige slagoffer in ‘n argument met ‘n familielid betrokke toe sy gesteek is.

“Steenberg-polisie het ‘n moordsaak geopen nadat die liggaam van ‘n 59-jarige vrou in die vroeë oggendure van Vrydag, 5 Junie 2026 in St Christopher-laan, St Montague Village, ontdek is.

“Die slagoffer het steekwonde aan haar liggaam opgedoen en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar.

“Ons kan bevestig dat twee vroulike verdagtes van 18 en 19-jaar-oud gearresteer is in verband met die moord en sal Maandag, 8 Junie 2026 in die Wynberg-landdroshof verskyn,” het Twigg gesê.


Moord in Lavender Hill

Man sterf na enkele steekwond

MISDAADTONEEL: Lavender Hill, Kaapstad: ‘n 27-jarige man is Vrydagoggend, 22 Mei 2026 in Lavender Hill doodgesteek.

Sersant Wesley Twigg van die Wes-Kaapse polisie se mediakantoor het gesê die Steenberg-polisie het ‘n moordsaak vir geopen na die messtekery wat omstreeks 07:00 op die hoek van Urfield- en Epsten-weg gebeur het.

Twigg sê toe die polisie by die toneel het hulle die man met ‘n steekwond aan sy liggaam gevind.

“Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en nog geen arrestasies is op die stadium gemaak nie.”

Mense met inligting oor die voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.