JP Smith
Ou toppie beland toe in selle oor kreefsterte
Man in pekel ná drinkery in publiek
MISDAADTONEEL: Wynberg, Kaapstad: ‘n Bejaarde (69) man se drinkery in die publiek het hom agter tralies laat beland toe hy gevang is met amper 2000 kreefsterte.

Volgens die Stad Kaapstad was wetstoepassingsbeamptes verbonde aan die marine eenheid op Sondag 7 Junie 2026 besig met patrollies toe hulle naby Victoria-hospitaal in Wynberg mense in ‘n parkeer area sien drink.
Hulle het die mense genader en ‘n wit Mitsubishi voertuig deursoek. Die wetstoepassers het afgekom op 1 848 West Coast kreefsterte en R17 600 kontant. Die voertuig behoort aan die 69-jarige man, ‘n inwoner van Houtbaai, en hy is gearresteer.
Die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het gesê die voorval beklemtoon die vermetelheid van wetsoortreders in die Stad.
“Hoe anders verduidelik ‘n mens die openlike oortreding van die wet deur alkohol in die openbaar te gebruik, wetende dat jy in besit is van smokkelware?” het Smith gevra.
Behalwe dié saak, het wetstoepassers vir die week tot en met 7 Junie 2026, 199 arrestasies gemaak en die metropolisie166.
Die verkeerspolisie het 41 arrestasies aangeteken, waarvan 34 vir bestuur onder die invloed van alkohol, vier vir roekelose of nalatige bestuur en drie vir ander oortredings was. Hulle het ook 1 764 lasbriewe vir arrestasie uitgereik en 219 openbare vervoer-voertuie in beslag geneem.
Die openbare noodkommunikasiesentrum het oor die naweek van 5 tot 7 Junie 2026, 1 439 oproepe ontvang waarvan 87 gevalle vir fisiese aanranding was, 35 van gesinsgeweld en 43 padongelukke.
K9 Bunny snuffel duisende Mandrax-pille uit
Hond is dwelms se baas
MISDAADTONEEL: Bellville, Kaapstad: Die Metropolisie se honde-eenheid het weer in Bellville toegeslaan waar hulle Mandrax-tablette met ‘n straatwaarde van meer as R130 000 gekonfiskeer het.

JP Smith, die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, het op Facebook gesê beamptes het Donderdagmiddag, 21 Mei 2026 net voor 12:00 inligting ontvang oor dwelms wat na bewering by die Tienie Meyer Bypass informele nedersetting aangehou word.
Toe hulle by die perseel aankom, het die huisbewoner hulle toestemming gegee om die plek te deursoek.
“Beamptes het aanvanklik op vier Mandrax-tablette afgekom, maar het toe besluit om die honde-eenheid in te roep. Dit was nie lank nie voordat K9 ‘Bunny’ sy hanteerder na ‘n swart sak wat agter ‘n kas versteek was, gelei het.
“In die sak was byna 3 000 Mandrax-tablette met ‘n straatwaarde van meer as R130 000, 14 rondtes ammunisie, ‘n gesteelde selfoon en meer as R5 000 kontant,” het Smith gesê.
‘n 34-jarige verdagte is gearresteer en word by die Bellville SAPD aangehou.
Crime Scene Report het ‘n week gelede berig dat K9 ‘Virus’ ‘n dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van meer as R2,7 miljoen in ‘n geparkeerde motor by Parksig Villas in Bellville ontdek het.
Inwoners gooi klip toe wetstoepassers ou wil arresteer
Stad kap terug teen aanval op metro polisie
MISDAADTONEEL: Athlone, Kaapstad: Die Stad Kaapstad het ‘n aanval op sy Metro polisiebeamptes veroordeel nadat mense die wetstoepassers met klippe bestook het terwyl hulle op Sondag 12 April ‘n verdagte in ‘n skiet saak gearresteer het.

Die beamptes het gereageer op klagtes van ‘n skietery by Die Vlei informele nedersetting. Met hulle aaankoms het hulle ‘n verdagte met ‘n 9 mm Ruger-pistool en 18 rondtes ammunisie in sy besit, gearresteer.
Maar inwoners van Die Vlei wou niks hiervan hoor nie en het die wetstoepassers met klippe gegooi. Twee patrolliemotors is in die voorval beskadig.
Die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, het gesê die verdagte is na die polisiestasie geneem, maar die beskadigde voertuie moet nou herstel word, en beklemtoon dat sulke gedrag pogings om veiliger gemeenskappe te skep, ondermyn.
▪Data wys aanvalle op die metropolisie in Kaapstad toegeneem het, met 52 voorvalle wat tussen Julie 2025 en Januarie 2026 aangeteken is in vergekyking met 43 die vorige jaar.
