Muizenberg polisie

 
 

Bestuurder doodgeskiet, passasier gewond in skietery

Man sit 18 jaar ná taxi moord

UIT DIE HOF: ‘n Man wat skuldig bevind is aan die moord op ‘n taxibestuurder en poging tot moord van ‘n passasier in Vrygrond naby Muizenberg, is deur die Wynberg-streekhof tot 18 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Die 29-jarige bestuurder het Vrydag, 4 November 2022 met sdy taxi vol passasiers vanaf Wynberg gery. Toe hy by ‘n stopteken in Vygrond-laan stilhou, is hy geskiet en noodlottig gewond. Een van die passasiers is ook gewond tydens die skietery.

Daar is ten tyde van die voorval berig dat daar konflik tussen lede van ‘n taxivereniging en ‘n bendegroep was.

Speurdersersant Patrick Mdokwana van die Taxigeweld-eenheid se flink speurwerk het daartoe gelei dat Bjorn Davids in November 2022 gearresteer is, Hy was vir die duur van die verhoor in aanhouding.

Davids is Woensdag, 9 September 2026, tot 15 jaar direkte gevangenisstraf vir moord en 10 jaar gevangenisstraf vir poging tot moord gevonnis, waarvan sewe jaar saam met die eerste aanklag sal loop. Hy is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.


Vullisverwyderaars maak gru-ontdekking

Pasgebore baba in vullisblik gevind

MISDAADTONEEL: Capricorn, Kaapstad: Munisipale vullisverwyderaars van die Stad Kaapstad het Donderdag-oggend, 27 Augustus 2026 ‘n skokkende ontdekking gemaak toe hulle ‘n pasgebore baba in ‘n vullisdrom gevind het.

Thembakazi Mpendukana, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, sê die gru-ontdekking is in Dassie-weg, Vrygrond, gemaak.

“Die liggaam van ‘n pasgebore babadogtertjie is omstreeks 6:45 in ‘n vullisdrom gevind. ‘n Geregtelike doodsondersoek is deur die Muizenberg SAPD vir verdere ondersoek geopen en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Mpendukana gesê.

Die wyksraadslid vir die gebied, Mandy Marr, het gesê buurt veiligheidsbeamptes (NSO’s) was op die toneel en het die gebied beveilig totdat die polisie opgedaag het.

“Ons doen ‘n beroep op enigiemand in die gemeenskap wat swanger is of ‘n baba gehad het waarvoor hulle nie kan sorg nie, om asseblief vir my of een van die gemeenskapsleiers te kontak. Ons sal u in volle vertroue bystaan,” het Marr gesê.


Vermoor in Hillview

Jongman uit kar doodgeskiet

MISDAADTONEEL: Hillview, Kaapstad: ‘n Jongman is Maandagaand 18 Mei 2026 doodgeskiet terwyl hy in ‘n straat in Hillview geloop het.

‘n Mediaskakelbeampte van die Wes-Kaapse Polisie, sersant Wesley Twigg, het gesê die 24-jarige man is omstreeks 21:00 in Potbergweg geskiet.

“Toe die polisie op die toneel aankom het hulle die slagoffer met skietwonde aan sy liggaam gevind. Volgens inligting het die slagoffer in die pad geloop toe ‘n wit voertuig langs hom stilhou en een van die insittendes op hom losbrand met ‘n vuurwapen. Die voertuig het daarna vanaf die toneel gevlug.

“Die motief vir die aanval is vermoedelik bendeverwant. Die Muizenberg-polisie ondersoek ‘n saak van moord,” het Twigg gesê.

Enigiemand met inligting oor hierdie voorval kan Crime Stop kontak by 08600 10111 of die mobiele MySAPS-App anoniem gebruik.