Kaapstad misdaad
Verdagtes skiet uit voertuig
Een dood, 3 gewond in Kewtown
MISDAADTONEEL: Athlone, Kaapstad: ‘n 19-jarige man is dood en drie ander gewond in ‘n skietery in Kewtown Vrydagaand, 17 Julie 2026.

Die voorval het op die hoeke van Klapperbos- en Springbok-straat plaasgevind.
Volgens Konstabel Ndakhe Gwala, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, het mense uit ‘n onbekende voertuig op die slagoffers geskiet.
“Athlone-polisie het ‘n saak van moord en drie aanklagte van poging tot moord geregistreer. Behalwe die persoon wat doodgeskiet is drie mense van 11, 14 en 27-jaar-oud gewond en na ‘n mediese fasiliteit gehaas vir behandeling.
“Die motief vir die skietery moet nog bepaal word en geen arrestasie is in hierdie stadium gemaak nie,” het Gwala gesê.
Polisie kry gesteelde goedere in kar
Voertuig ‘jammers’ agter tralies
MISDAADTONEEL: Grassy Park: Die Stad Kaapstad se verkeerspolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het drie verdagtes gearresteer wat vermoedelik betrokke is by voertuig jamming in die suidelike voorstede.

JP Smith, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, sê inligting is Vrydagmiddag, 10 Julie 2026 ontvang oor ‘n voertuig wat na bewering gekoppel is aan jamming voorvalle.
“Beamptes van ons verkeersdienste, ondersteun deur die SAPD se Blitspatrollie, het die voertuig vinnig opgespoor en ‘n taktiese operasie uitgevoer in die parkeer area van Nando’s op die hoek van Prince George-rylaan en 5de-laan, Grassy Park.
“Die voertuig is deursoek en jamming toestel, skootrekenaar, drie selfone en ander items wat vermoedelik gesteel is, is gevind,” het Smith gesê.
Die drie verdagtes, van Pelican Park, Philippi en Gugulethu, is op die toneel gearresteer en aan die Grassy Park SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
“Welgedaan aan almal wat betrokke was by nog ‘n suksesvolle operasie wat help om ons gemeenskappe veiliger te maak,” het Smith gesê.
Slagoffer verskeie keer in trokkie geskiet
Man op pad werk toe vermoor
MISDAADTONEEL: Mitchells Plain, Kaapstad: ‘n Man is Donderdagoggend, 9 Julie 2026 tragies dood toe hy in sy voertuig op pad werk toe geskiet is.

‘n Skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kaptein FC Van Wyk, sê die Mitchells Plain-polisie het ‘n moordsaak geopen ná die skietvoorval omstreeks 07:00. Die voorval het op die hoeke van Weltevredenweg en Morgensterweg, Westgate gebeur.
“Die 45-jarige slagoffer was alleen in die voertuig, ‘n Hyundai-minibakkie, op pad werk toe ten tyde van die voorval. Hy is verskeie keer getref.
“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek,” het Van Wyk gesê.
Mense met inligting word vriendelik versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem te gebruik.
Sewe sterf, 5 beseer in skietery
Slagting op Kaapse Vlakte
MISDAADTONEEL: Kaapse Vlakte: Sewe mense is dood en ten minste vyf beseer in twee massaskietvoorvalle Woensdagaand, 8 Julie 2026.

In die eerste voorval, wat omstreeks 20:10 op die hoek van Laurastraat en 8ste-laan in Lost City, Tafelsig, Mitchells Plain plaasgevind het, het vyf mans buite ‘n plaaslike spaza winkel gestaan.
Gewapende verdagtes het hulle genader en op hulle losgebrand.
Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, kolonel Andrè Traut, het drie slagoffers van 18, 19 en 51-jaar-oud, noodlottige skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Twee ander slagoffers van 17 en 22-jaar-oud, is na ‘n mediese fasiliteit vervoer vir behandeling.
“’n Kort rukkie later, omstreeks 20:30, het die polisie gereageer op ’n skietvoorval by ’n woning in Marcus Garvey, Philippi-Oos, waar sewe mense geskiet is. Vier slagoffers, tussen 17 en 20-jaar-oud, is op die toneel dood, terwyl drie ander in die hospitaal opgeneem is.
“Die omstandighede en motief rondom beide voorvalle word ondersoek,” het Traut gesê.
“Om verdere geweld te voorkom en openbare veiligheid te verbeter, is polisie-ontplooiings in die betrokke gebiede verskerp. Lede sal ’n sigbare teenwoordigheid handhaaf en voortgaan om operasies uit te voer wat daarop gemik is om die gemeenskappe te stabiliseer en die veiligheid van inwoners te verseker.
“Die Wes-Kaapse polisie veroordeel hierdie gewelddadige dade ten sterkste en gaan alles doen omdie verantwoordelikes te vang,” het Traut gesê.
Vroeër is een persoon ook glo dood tydens ’n skietvoorval in Komatiweg, Mfuleni.
Enigiemand met inligting wat ondersoekbeamptes kan help, word versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of inligting anoniem via die MySAPS-App in te dien. Alle inligting sal met die strengste vertroulikheid behandel word.
Moordenaars kom weg met vier pistole
Wag vir vuurwapens vermoor
MISDAADTONEEL: Khayelitsha, Kaapstad: ‘n Sekuriteitswag is doodgeskiet en van vier vuurwapens beroof kort nadat hy kollegas by die huis afgelaai het.

Kaptein FC van Wyk, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sê die skietvoorval het omstreeks 06:00 Woensdagoggend, 8 Julie 2026 in Spine-weg, langs die Town Two-braaiplekke, Makhaza, plaasgevind.
“Die polisie het ‘n moordsaak geopen na die noodlottige skietery van ‘n 34-jarige man. SAPD-lede (Suid-Afrikaanse Polisiediens) is na ‘n moordtoneel by die genoemde adres ontbied en met hul aankoms het hulle ‘n man op sy rug gevind lê, bedek met ‘n laken.
“Ambulanspersoneel was reeds op die toneel en het hom dood verklaar. Hy is verskeie kere geskiet, het Van Wyk gesê.
Die slagoffer was ‘n sekuriteitswag en het sy kollegas kom aflaai.
“Nadat hy die laaste kollega afgelaai het, het hy weggery en ‘n paar minute later het die kollega skote gehoor. Daar word beweer dat die oorledene vier 9mm-vuurwapens in die voertuig gehad het wat aan ‘n sekuriteitsmaatskappy behoort.
“Dié vuurwapens is almal uit die voertuig gesteel. Die motief is vermoedelik roof,” het Van Wyk gesê.
Enigiemand met inligting oor die voorval word vriendelik versoek om Stop Misdaad te kontak by 08600 10111 of die mobiele MySAPS-App anoniem te gebruik.
Twee vas vir hope dwelms
Polisie slaan toe in Lang-straat
MISDAADTONEEL: Lang-straat, Kaapstad: Die lang arm van die gereg het Vrydag 3 Julie 2026 in die hart van die Stad se nightife toegeslaan toe hulle meer as 200 ecstasy-tablette gekonfiskeer het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het lede van Operasie Prosper inligting opgevolg oor ‘n persoon wat dwelms in Langstraat verkoop.
‘n Deursoeking van die geïdentifiseerde perseel en die verdagte is uitgevoer en 108 ecstasy-tablette is gevind en gekonfiskeer. ‘n 34-jarige man is gearresteer vir die besit van dwelms.
In dieselfde straat het die lede ‘n ander perseel deursoek waar hulle 144 ecstasy-tablette gevind het en ‘n 21-jarige man gearresteer het vir die besit van dwelms.
Die verdagtes sal Maandag 6 Julie 2026 in die Kaapstadse Landdroshof verskyn.
Polisie kry slagoffer met skietwond in hospitaal
Man van Witsand sterf tragies
MISDAADTONEEL: Atlantis, Kaapstad: ‘n Man is Vrydagaand, 3 Julie 2026 in Witsand, Atlantis, doodgeskiet.

Die polisie het gereageer op ‘n klag van ‘n skietery in Chris Hani-straat, Witsand, omstreeks 21:30.
Volgens sersant Wesley Twigg, ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, is die polisie met hul aankoms op die toneel in kennis gestel dat die slagoffer na ‘n mediese fasiliteit vervoer is vir behandeling.
“Met hul aankoms by die hospitaal, is die liggaam van ‘n 53-jarige man met ‘n skietwond deur mediese personeel aan hulle uitgewys. Die slagoffer is in die hospitaal dood verklaar. Die omstandighede rondom hierdie voorval word ondersoek,” het Twigg gesê.
Die Atlantis-polisie ondersoek ‘n moordsaak.
Mense met inligting oor hierdie svoorval kan Stop Misdaad kontak by 08600 10111 of die mobiele MySAPS-App anoniem gebruik.
Slagoffer verskeie kere in kop geskiet
Man in straat afgemaai
MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: ‘n 35-jarige man is Donderdagaand, 2 Julie 2026, in ‘n straat hier doodgeskiet.

Volgens ‘n skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, Thembakazi Mpendukana, is die man omstreeks 19:50 in Tornado Sirkel, The Hague, Delft, geskiet.
“Toe Delft-polisie op die toneel aankom het hulle die liggaam van ‘n 35-jarige man gevind met veelvuldige koeëlwonde aan sy kop. Hy is op die toneel dood verklaar. Die polisie ondersoek tans die omstandighede rondom die moord en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Mpendukana gesê.
Man met veelvuldige beserings dood gekry
Polisie maak gru-vonds
MISDAADTONEEL: Delft, Kaapstad: Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ‘n gru-ontdekking gemaak toe hulle ‘n man met veelvuldige beserings in Delft-Suid gevind het.

Die polisie is Woensdagoggend, 1 Julie 2026 na Quince-straat ontbied waar hulle op die slagoffer afgekom het.
‘n Skakelbeampte vir die Wes-Kaapse polisie, sersant Wesley Twigg, het gesê die Delft-polisie het sedertdien ‘n moordsaak vir ondersoek geregistreer.
“Die slagoffer het veelvuldige beserings aan sy liggaam gehad en is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en geen arrestasies is nog gemaak nie,” het Twigg gesê.
Mense met inligting oor die voorval kan Stop Misdaad kontak by 08600 10111 of die MySAPS-App anoniem gebruik.
Aanvalsgeweer in kar gevind
Vier vas na ontvoer-drama
MISDAADTONEEL: Retreat, Kaapstad: ‘n Ontvoeringsdrama het hom op Vrydag 26 Junie 2026 in Retreat afgespeel toe die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vier verdagtes in gearresteer het.

Die vinnige optrede deur die Wes-Kaapse Blitspatrollie het gelei tot die arrestasie van die verdagtes vir vuurwapen-verwante oortredings en sameswering om iemand te ontvoer.
Die arrestasies word toegeskryf aan Misdaadintelligensie en die Blitspatrollie se optrede, het die SAPD gesê.
Lede van die Blitspatrollie het gereageer op inligting oor verdagtes in ‘n silwer Toyota Rumion, wat saamgesweer het om ‘n slagoffer in Retreat te ontvoer. Hulle het die voertuig in 11de-laan, Retreat, opgemerk en dit deursoek.
Die lede het ‘n aanvalsgeweer met 18 rondtes ammunisie en ‘n pistool met sewe rondtes ammunisie gevind. Hulle het ook ‘n stel Oos-Kaapse nommerplate en ‘n sakkie met sewe rondtes geweer-ammunisie en twee selfone gevind.
Die vier verdagtes tussen die ouderdomme van 25 en 36-jaar sal Maandag 29 Junie 2026 in die Wynberg-landdroshof verskyn.
